Net Mens Season 1
'n Eerlike sensitiewe vertelling en visuele biografie van agt
Suid-Afrikaanse kunstenaars se lewensverhale.
Net mens is ’n dokumentêre reeks met ’n sensitiewe dog eerlike aanslag
wat kykers insae gee in Suid-Afrikaanse kunstenaars se lewens – vanaf
grootwordjare tot die kruin van ’n loopbaan; die moeilike tye, die
goeie tye, suksesse asook die opspraakwekkende oomblikke wat voorblaaie
gehaal het. Dié kunstenaars (sangers, akteurs, aanbieders en glanspersoonlikhede)
maak in Net mens oop oor die komplekse uitdagings van ’n lewe in die openbare oog.
In die eerste seisoen van die reeks, wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is,
het Kurt Darren, Kim Cloete, Dirk van der Westhuizen, Elandré, Cindy Swanepoel,
Refentse, Hykie Berg en Early B hulle harte oopgemaak en kykers insae in hul lewens
agter die skerms gegee.
Nou deel die aktrise Lindie Stander, sanger Appel en rugbylegende Breyton Paulse hul
lewensverhale soos nog nooit tevore nie.
Die idee vir die reeks kom uit die kreatiewe kop van die
Binnelanders-akteur Reynardt Hugo,
Net mens se vervaardiger en regisseur. In die opkomende splinternuwe episodes
sal kykers ook meer van Hugo as onderhoudvoerder op die skerm sien.
“Met elke episode het ek so baie geleer en gegroei. Ek het werklik deernis ontwikkel vir die mense met
wie ek kon gesels. Ek bedank hulle vir die manier waarop hulle ons in hul
huise en harte ingelaat en vertrou het met baie sensitiewe persoonlike sake.
Kykers sal anders oor hulle dink ná die episodes,” sê Hugo.
Die eerste episode skop af met die geliefde
Binnelanders-aktrise Lindie
Stander wat oopmaak oor haar moeilike verlede. Terwyl sy binne haar twee
dekade lange televisieloopbaan in kykers se harte gekruip het, het sy haar
pyn agter ’n masker weggesteek. Die letsels van molestasie was vir ander
onsigbaar, maar het haar jare lank agtervolg. Sy praat openlik oor die tye
waar sy haar in ’n donker put van dwelm- en drankverslawing bevind het, maar
ook oor hoe haar soeke na heling en betekenis nooit opgehou het nie.
Die Net mens-span het ook by die Helen Joseph-hospitaal besoek afgelê
wat ’n belangrike rol in Lindi Stander se lewensverhaal gespeel het.
Die geliefde Afrikaanse sanger Appel se lewe het onverwagse draaie gemaak,
maar die grootste uitdaging was sy stryd met epileptiese aanvalle wat hom
telkemaal heeltemal ontwrig en sy loopbaan tot stilstand gedwing het.
Hy moes weer van vooraf leer skryf, praat en kitaar speel. Met die hulp
van sy ondersteunende vrou en sy liefde vir sy dogter, asook ’n
Goddelike ingryping, het hy ’n tweede kans gekry. Sy storie getuig
van die veerkragtigheid van die menslike gees en hoe belangrik dit is
om jou geliefdes te koester.
Die filmspan het ook ’n draai by die Affie Wildsfees tydens een van Appel se optredes gemaak.
Breyton Paulse is nie net al dekades lank een van die aanbieders van die
gewilde kykNET-sportprogram
Toks & Tjops
nie, maar ook ’n rugbyheld uit
die Koue Bokkeveld. As speler het elke jongeling van sy streek hom bewonder
en sy sukses nagestreef. Vanuit ’n klein plaasgemeenskap het Paulse
internasionale roem met sy rugbyloopbaan behaal en respek afgedwing
omdat hy met soveel hart gespeel het dat sy kort statuur hom nooit verhoed
het om op die hoogste vlak uit te blink nie. Maar daar was ook struikelblokke
te midde van sy oorwinnings, soos die dag wat sy ma en tannie tragies in die
see verdrink het. Paulse beklemtoon egter steeds die belangrikheid van ’n
positiewe uitkyk op die lewe en sy verbondenheid met die gemeenskap waaruit
hy spruit – ’n band wat menige tye sy dryfkrag was om voluit te leef.
Watch Now